VRYWARING VIR MINDERJARIGES
As die ouer of wettige voog van ’n jeuglid wat vir Wilgedraai Voortrekkerkamp inskryf, verklaar jy die volgende:
- Dat ek my vergewis het van die grondslag, wese en doelstellings van Die Voortrekkers soos in die lidmaatskapsbrosjure uiteengesit, verleen ek toestemming dat my kind daaraan blootgestel mag word en onderneem ek om hom daarin te ondersteun.
- Dat ek kennis neem dat my kind hom aan die bepalings van die grondwet, reglemente en standaardprosedures van Die Voortrekkers onderwerp by registrasie en aanvaar ek dat daar toepaslik volgens die bepalings van Die Voortrekkers se reglemente, insake dissiplinêre optrede, opgetree kan word indien hy die beginsels daarvan of ander landswette oortree. Ek aanvaar dat my kind se deelname aan Wilgedraai Voortrekkerkamp opgeskort kan word, indien sy optrede na die redelike oordeel van die kampbestuur, ernstig in stryd is met die grondwet, reglemente en standaardprosedures van Die Voortrekkers.
- Dat ek hiermee Die Voortrekkers, al sy openbare amptenare, al sy verteenwoordigers en lede vrywaar teen aanspreeklikheid van enige eis om skade, uitgesonderd skade veroorsaak deur hulle growwe nalatigheid, hetsy gebaseer op geldelike verlies, uitgawes aangegaan in verband met sodanige skade, eise vir pyn en lyding, eise vir verlies aan toekomstige inkomste of watter ander aanspreeklikheid ook al, wat mag voortspruit uit een of meer van die volgende:
- dood of besering aan die persoon van my kind;
- verlies van eiendom van my kind terwyl gemelde kind betrokke is by enige aktiwiteit en/of reis op pad na of van enige perseel waar sodanige aktiwiteit aangebied word waarby Die Voortrekkers of enige van sy verteenwoordigers dit op enige vlak georganiseer het of by betrokke is.
- Dat ek hiermee die gemagtigde verteenwoordigers van Die Voortrekkers wat in bevel mag wees tydens enige voorval waarin my kind beseer mag word, magtig en aanstel om namens en in my plek tot enige van die ondergemelde toe te stem indien ek, om welke rede ook al, nie beskikbaar is nie:
- chirurgiese of mediese prosedure en/of toediening van narkose wat nodig mag wees as gevolg van enige besering aan die persoon van my kind;
- die aangaan van mediese koste in verband met my kind insluitend nood mediese afvoer.
- Dat ek waarborg en bevestig dat ek self gemagtig is en die reg het om tot sodanige optrede in te stem en bekragtig enige optrede hierkragtens gedoen.
- Dat ek onderneem om enige van die bogemelde koste ten opsigte van bogemelde op aanvraag te betaal en onderneem hiermee om Die Voortrekkers en/of enige van sy openbare amptenare en/of enige van sy verteenwoordigers te vergoed vir en vrywaar van enige koste wat in hierdie verband aangegaan mag word.
- Dat ek bevestig dat enige mediese rekening direk aan my gestuur moet word en onderneem om alle koste in die verband op aanvraag te betaal.
- Dat ek die woonadres vermeld in die registrasie kies vir doeleindes van enige kennisgewing aan my, voortspruitend uit enige aksie gedek deur hierdie dokument.



